Kies jou woorde goed

Jou mond is seker een van die wonderlikste dinge wat God jou gegee het.  Buiten dat jy dit kan gebruik om lekker te eet, kan jy dit gebruik om die wonderlikste dinge te sê.

Die Woord, Jesus, leer ons dat dit waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor (Lukas 6:45)

Verder, sê Paulus in Romeine 10:8-10 dat ons met ons monde die Woord van God kan spreek, en dit tot redding.  Met ander woorde, die uiting van dit wat in ons mond kom is ver belangriker as dat jy bloot net praat, en dit dan woorde in die wind is.

Jakobus het `n soortgelyke gesprek wat eindig met hierdie vraag:

“’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?” (Jakobus 3:11).

Wat hier ter sake is, is dat Jakobus die mense se gemengde aanwending van hul monde in die korrekte lig stel.  Indien jou taalgebruik nie ingesout is nie, maak jy seker dat jy seker een van die belangrikste dinge wat God vir jou gegee het, stadig maar seker steriliseer.  Jesus het gesê, dit is nie dit wat ingaan wat jou onrein maak nie, maar dit wat daar uitkom.

Ons is Godsvresende mense.  As daar gevra word om vir die kos te bid, is almal se kepse onmiddellik van hulle koppe af. Net daarna los daardie selfde persone knope wat die bobbejane laat bloos.  Dit tol nie.  Die kontras is te groot.  Om te lelik te praat is een ding, maar om te vloek is totaal iets anders.  Hoor wat sê Paulus:

“Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.” (Efesiërs 5:4)

Met ander woorde, growwe praatjies pas nie by ons nie, wat nog te sê van die een knoop op die ander. Wat vir my verstommend is, is hoe daardie selfde mense hulle taal monitor.  In sekere geselskappe sal daar geen vreemde woord uit hul monde kom nie, net om oomblikke later in ander geselskappe die lyne oop te maak.  Met ander woorde, vloek het `n keuse geword, dit is nie iets wat spontaan of onbeheerbaar uit hulle monde kom nie.

Vir my is daar `n eenvoudige reël: taalgebruik wat ek een-op-een met Jesus sou gebruik, kan ek enige plek gebruik.  As ek nie die selfvertroue het om in Sy geselskap of selfs teenoor Hom te knoop nie, is die selfvertroue enige ander plek ongegrond.

Dan kry jy die ‘jammer-dat-ek-nou-net-geknoop-het’ mense.  Hulle knoop en vra beleefd daarna om verskoning… Ai-ja-jaai. Geen kommentaar nodig oor die styl nie.  Dit is amper dieselfde as om na Mavericks te verwys as `n ‘gentlemen’s club’.  G’n ‘gentleman’ gaan soontoe nie.  Maar die skerp kant van die wandaad word so verbloem… So ook is die ‘jammer-dat-ek-nou-net-geknoop-het’-manier van doen.  Dit is net iets wat die skerp kan van swak styl wegsteek en die effek van dit op jou lewe kamoefleer.

En terwyl die tong nou behoorlik los is.  Moenie jou tong deurboor met een of ander stuk juweliersware nie.  Lewe is uit die gees.  En jou mond is een van die belangrikste dinge wat God jou gegee het.  Om dit in die vlees te deurboor was die uiteinde van `n besluit wat in moontlik in die gees oorsprong gehad het, maar sekerlik in die gees effek sal hê.  Wat is die effek regtig?  Dit is moeilik peilbaar, maar iets is nie reg nie.  Ek kan in my wildste drome nie dink dat Jesus dit aan Homself sou doen nie, so hoekom ek?  Nee dankie.

So, kies jou woorde goed, want soos Salomo dit vir onsneergepen het:

“Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” (Spreuke 18:20-21)